TuisbladBedieningeJeugNuwe lidmateAflaaibronneFoto GallerySkakelsKontak ons
 
 

Hoe ons werk

Ons het ‘n liggaamsbediening wat beteken dat leierskap geheel en al aan die gemeente as korporatiewe eenheid (liggaam) veranker is - leiers kom vanuit die bedieninge self, op grond van bewese leierskap en vaardigheid in ons gemeentelewe. So gee ons erkenning aan die gawes van die Gees.

Ons het die volgende gemeenteleiers wat ook die Besluitnemingsliggaam is:
•  ‘n Ouderling is ‘n bedieningsleier van ‘n bepaalde bediening.
•  ‘n Diaken is ‘n leier van ‘n diensgroep in die Bediening: Diens
•  Leraars se bediening word gedefinieer met inagneming van ons gemeente se bedieningsbehoeftes en die leraars se gawes en vaardighede.

Ons standpunt oor leierskap word ook bepaal deur die volgende teologiese oorwegings:
•  Ons Hoof: Jesus Christus is die Hoof van ons Gemeente - Hy versorg ons as Hoof en regeer oor ons as Hoof.
•  Gemeenteleierskap: Ons het ‘n ruimer siening van leierskap: ‘n gemeenteleier is elkeen wat die verantwoordelikheid vir ‘n bepaalde bediening / diensgroep dra en is nie net die tradisionele leiers, die sg “ampsdraers” (leraars, ouderlinge en diakens) nie. Die implikasie hiervan is:
    • dat ons praat van ‘n bediening eerder as ‘n “amp”
    • dat elke gemeenteleier ‘n bediening het, nie net die sg “ampsdraers” nie
    • en dat ons gemeenteleiers wat op die kerkraad dien, ouderlinge en diakens genoem word omdat die kerkorde dit vereis.

Leierskap as diens: Gemeenteleierskap is ‘n roeping tot diens.

Diensknegleierskap: Gemeenteleiers is dienaars na die voorbeeld van Christus.

Diens en verantwoordelikheid: Gemeenteleierskap word nie bepaal deur status en posisie nie, maar deur diens en verantwoordelikheid, gawes en funksie. Daarom funksioneer sommige leiers in en by spesifieke bedieninge, terwyl ander leiers met die oog op die geheel van die gemeente funksioneer (bv as besluitnemingsliggaam - die kerkraad).

Leierskap as ‘n Gawebediening: Lidmate se diens en roeping tot leierskap word bepaal deur die gawes wat die Heilige Gees gee. Dit beteken dat lidmate saam met die gemeenteleiers aktief besig is met die opbou en uitbou van ons gemeente en -verskillende funksies vervul langs en saam met gemeenteleiers.

Leierskap as Begeleiding: Gemeenteleiers is Begeleiers: hulle begelei gemeentelede om hulle roeping te vervul. Hulle voer nie bloot sekere pligte (funksies) uit nie, maar bou die gemeente op as 'n liggaam (korporatiewe eenheid). Dit is ‘n fokus op prosesse en nie bloot op funksies nie. Leierskap as begeleiding het die volgende fasette:
•  Presensie: 'n leier verteenwoordig in opregte liefde God by mense
•  Visionering: 'n leier help lidmate om vanuit die werklikheid van Christus se opstanding te dink en te leef.
•  Fasilitering: 'n leier help lidmate om prosesse en strukture te ontwikkel wat hulle lewe saam met mekaar en hulle bedieninge in die wêreld kan bevorder.
•  Energering: 'n leier help om die energie wat in 'n gemeente is te ontsluit vir die saak van Christus.

Die Kerkraad funksioneer nie net as Besluitnemingsliggaam nie, maar ook as ‘n Bestuurspan wat voortdurend visionêr – strategies beplan en bestuur.



 
 

 

     
   
© 2010 NG Gemeente Kempton Hoogland. Alle regte voorbehou